Fracking and water in the Afrikaans press


  • Article rank
  • 4 Sep 2013
  • Die Burger
  • Elise Tempelhoff Edna Molewa

Hidrobreking dalk deel van Waterwet

TKAG verwelkom ‘openheid’

PRETORIA. – Die regering berei die grond voor om hidrobreking in die Karoo goed te keur met die eerste wetsaanpassing oor watergebruik spesifiek vir hierdie aktiwiteit.

Edna Molewa, minister van waterwese, het gister hier op ’n nuuskonferensie gesê die Waterwet (1998) het tot dusver nie voorsiening gemaak vir hidrobreking, nie. Met die wysigings aan die Waterwet – die sogenaamde hersiening van die Nasionale Waterbeleid – word daar nou spesifiek na hidrobreking verwys as ’n “gekontroleerde aktiwiteit” waarvoor maatskappye om waterlisensies sal moet aansoek doen.

Molewa het gesê hierdie wysiging, waarop kommentaar tot einde Oktober gelewer kan word, maak voorsiening vir die ontginning van skaliegas “omdat water in dié proses gebruik gaan word”.

Jonathan Deal, voorsitter van Treasure the Karoo Action Group (TKAG), het gesê die organisasie verwelkom Molewa se “openheid” oor dié omstrede aktiwiteit, terwyl die werksaamhede van die res van die interdepartementele moniteringskomitee oor hidrobreking in “geheimhouding” gehul is.

Volgens Deal was die TKAG hierdie verandering aan die Waterwet te wagte omdat Molewa hulle daaroor geraadpleeg het.

Deal het gesê Molewa kan nie op haar eie die proses van hidrobreking goedkeur of stuit nie. Hy glo die res van die ANC gaan waarskynlik die ontginning van skaliegas vinnig probeer goedkeur in ’n poging om politieke punte aan te teken met die oog op aanstaande jaar se verkiesing.

“Ons hou hulle fyn dop. As hulle dit doen, gaan ons hof toe,” het hy gesê.

Deal het gesê die regering het nie behoorlik gekonsulteer oor die ontginningsproses nie. Hy het gesê die goedkeuring van hidrobreking kan ontaard in ’n soortgelyke debakel as dié rondom die e-tolsage.

Molewa het ontken dat haar departement politieke punte wil aanteken en gesê die moratorium op hidrobreking is twee jaar gelede opgehef. Haar departement is net besig om sy huiswerk te doen. “Ons is maar een van die lede van die interdepartementele moniteringskomitee. Susan Shabangu (minister van minerale bronne) is die voorsitter daarvan.”

Marti Wenger, DA-woordvoerder oor waterwese, het in ’n verklaring gesê as die regering hidrobreking goedkeur, sal hy baie streng maatreëls moet instel om die land se waterbronne te beskerm.

Sy het gesê hidrobreking het die potensiaal “om baie werksgeleenthede te skep”.

Molewa het gesê hidrobreking kan die energielandskap in SuidAfrika verander. Voor hidrobreking egter goedgekeur word, sal maatskappye toegelaat moet word om ontginning te doen om die grootte van die bron te bepaal.

Dié aktiwiteit sal ook ’n waterlisensie nodig hê. “Ons wil ook weet presies watter soort chemikalieë die maatskappye gaan gebruik.”

Sy het bygevoeg dat haar departement sy reguleringsarm versterk.

“Die Groen en die Blou Skerpioene gaan hande vat en saamwerk om hierdie aktiwiteit te moniteer,” het sy gesê

Molewa het erken dat die Blou Skerpioene tot dusver nie in Mpumalanga die mas kon opkom teen myne wat sonder waterlisensies myn nie.

%d bloggers like this: