South African alliance of AfriForum/TKAG ready for court


Monica Schmalenberger from Sacramento, California comes to support TKAG in the fight against shale gas.

SKALIEGAS

Reuse-hofstryd dreig oor die Karoo

VSA-kampvegter bied haar dienste gratis vir ’n jaar aan

FRANCOIS WILLIAMS

Vrydag 11 Oktober 2013

Kaapstad. – AfriForum en die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) is reg vir ’n hofstryd met die regering sodra die eerste lisensies vir skaliegaseksplorasie in die Karoo toegeken word.

AfriForum het genoeg geld daarvoor, sê Jonathan Deal, direkteur van die TKAG.

Die regering het Donderdag tegniese regulasies oor hidrouliese breking – die proses om metaangas uit diep ondergrondse skalierots te onttrek – bekend gemaak en mik daarna om voor die verkiesing in 2014 eksplorasieregte toe te ken.

Monica Schmalenberger van Sacramento, Kalifornië, het haar by die TKAG-span aangesluit spesifiek om met die verwagte hofstryd te help. Sy was die wetgewingsassistent van senator Fran Pavley van Kalifornië wat baie streng wetgewing oor die regulering van hidrouliese breking in dié Amerikaanse deelstaat help deurvoer het.

Schmalenberger weet die TKAG het nie die geld om haar ’n salaris te betaal nie en gaan vir ’n jaar as vrywilliger help.

Deal wys intussen op van die internasionale oliemaatskappye in Amerika wat hulle aan skaliegas onttrek of hul bates aansienlik moes afskryf weens ooroptimistiese aanvanklike skattings van hoeveel skaliegas wel daar ontginbaar is. Shell wil nou sy skaliebates in Texas en Colorado verkoop en BHP Billiton moes die waarde van die Fayettville-skaliegasbates met $2,84 miljard verlaag minder as 18 maande nadat hy dit by Chesapeake gekoop het.

Hy het prof. Martin de Wit van De Wit Sustainable Options gevra om die studie wat Econometrix in 2012 met finansiering van Shell oor die ekonomiese impak van skaliegas op Suid-Afrika gedoen het, te ontleed.

De Wit meen die korrekte ekonomiese model word nie in die studie gebruik om die werklike impak te raam nie.

Volgens die Econometrix-studie kan 290 000 tot 700 000 werkgeleenthede geskep word. Dis gegrond op skaliegasreserwes van tussen 20 en 50 tcf (1 tcf = 1 000 miljard kubieke voet).

Die Amerikaanse Geologiese Opname skat Suid-Afrika se skaliegasreserwes op tot 485 tcf, maar die Petroleumagentskap van Suid-Afrika se veel beskeier skatting is enigiets tussen 15 en 30 tot 40 tcf.

Deal meen selfs in Amerika is die ramings vir skaliegasreserwes hopeloos ooroptimisties. Die Amerikaanse energie-inligtingsadministrasie het byvoorbeeld in 2011 die reserweskatting vir die Marcellus-gebied van 410 tcf tot 84 tcf hersien.

Terwyl die regering hoop op groot werkskeppingsmoontlikhede, is die werklikheid in Amerika dat hidrouliese breking hoogs tegnies is, met tegniese spanne van byvoorbeeld Oklahoma en Texas wat van plek tot plek by Pennsilvanië se skaliegasboorgate werk sonder noemenswaardige indiensneming van plaaslike mense.

– AfriForum en TKAG gaan boere wat teen skaliegasontginning in die Karoo gekant is, adviseer hoe om binne wetlike perke op te tree wanneer eksplorasiemaatskappye hul grond wil betree. “Ons gaan die voorbeeld volg van die hoogs suksesvolle Australiese beweging ‘Lock the Gate’.”

Lock the Gate verteenwoordig sowat 170 gemeenskapsorganisasies in Australië wat vreedsaam weerstand bied teen die snelle uitbreiding van steenkool- en aardgasontginning in veral die ooste van Australië.

Die Karoo:

– Het meer as 1 miljoen mense in 100 dorpe.

– Is 400 000 km² groot, sowat 40% van Suid-Afrika se grondoppervlakte.

– Lewer 30% van SA se rooivleis.

– Lewer 30% van SA se wol.

– Lewer 100% van SA se sybokhaar (50% van die wêreldproduksie).

–  Tuiste vir 7,2 miljoen skape (4,2 miljoen wolskape en 3 miljoen vleisskape

%d bloggers like this: