Die Burger vandag oor skaliegas. Lees en dink.


http://www.dieburger.com/opinie/2013-11-13-forum-s-nee-vir-skaliegas


Forum: Sê nee vir skaliegas


JONATHAN DEAL

Woensdag 13 November 2013
Suid-Afrikaners moet die waarheid oor hidrobreking hoor voordat dit te laat is, skryf Jonathan Deal.

Wêreldleiers is desperaat – desperaat om oplossings te vind vir werkloosheid, om energietekorte uit die weg te ruim en inkomste te verhoog. Intussen wil kiesers goedkoper en toeganklike energie hê. Die kiesers wil hê!

Ook groot multinasionale maatskappye is desperaat. Die aandeelhouers wil opbrengste hê, en aandeelhouers betaal salarisse – én prestasiebonusse. Die direkteure wil opbrengste hê; daarom moet hulle die aandeelhouers gelukkig hou, wat ook wil hê.

Intussen ontvou in die Amerikaanse olievelde ’n vreemde situasie. Groot maatskappye verloor geld; juis die groot name wat gewoonlik met groot winste vereenselwig word: BHP Billiton, BP, Chesapeake en Shell, om net ’n paar name te noem. Die verliese is miljarde dollars – $2,84 miljard, $2,1 miljard, om ’n paar voorbeelde te noem. (Onthou, een miljard dollar is die ekwivalent van sowat R10 000 000 000 – tien miljard rand.)

En terwyl jy hierdie artikel lees, raak Shell ontslae van sy skaliegasbates in Texas en Colorado.

Oorkant die Atlantiese Oseaan, in Shell se hoofkantoor, doen nog ’n vreemde verskynsel hom voor. En in dié kringe is daar spyt, gróót spyt.

Peter Voser, uitvoerende hoof van Shell, het onlangs aan die internasionale media erken Shell se betrokkenheid by skaliegas in Amerika is een van die dinge waaroor hy die meeste spyt is.

Shell besit rondom $24 miljard in skaliegasbates in Amerika en moes onlangs $2,1 miljard in verliese afskryf.

Maar aan die suidpunt van Afrika, in die Karoo, verkondig die einste Shell se bestuur aan Suid-Afrika se leiers en mense hoe wonderlik skaliegas vir Suid-Afrika sal wees. “Honderdduisende volhoubare werkgeleenthede,” basuin hulle uit. “ ’n Game changer vir Suid-Afrika,” trompetter hulle. “Suid-Afrikaners sal elektrisiteit hê: geen brande in informele nedersettings weens paraffienlampe nie” en “die land sal energie-sekerheid hê”, belowe hulle. Wanneer ’n mens luister na hul verleidelike beeld van die nuwe land van melk en heuning, wonder jy hoe Suid-Afrika dan ooit sonder skaliegas – en Shell – sou voortgaan.

Shell se litanie oor rykdom van skaliegas herinner ’n mens aan dié ou gesegde: As iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik nie waar nie.

Reis dus saam om die wêreld deur die skaliegasbedryf en besluit self of ons op pad is na ’n pot goud aan die punt van die reënboog, of eerder na ’n gekkeparadys.

Laat ons begin met waar hidrobreking onwelkom is: in meer as 200 plekke wêreldwyd – lande, provinsies, stede en dorpe, waaronder Frankryk, Bulgarye en, Shell se hoofkantoorland, Nederland.

Daar is miljoene mense wat nie hidrobreking wil hê waar hulle hul drinkwater kry, kinders grootmaak en voedsel verbou nie.

En wat glo ons in Suid-Afrika? Die stories oor “permanente” werkgeleenthede? Rykdom vir die arm Suid-Afrikaners? Elektrisiteit in elke huis? En dat klimaatsverandering opgelos sal word?

Die feit bly: Nóg Shell nóg ons regering het al ooit die skaal en erns van die internasionale beweging teen skaliegas erken nie. Ek glo dat hulle die proses in die land aan die gang wil kry voordat Suid-Afrikaners die omvangryke waarheid daaroor hoor. Dan sal dit te laat wees.

Wat is die ekonomiese implikasies? Shell het Econometrix betaal om ’n verslag op te stel oor skaliegas in Suid-Afrika. Dit is syfers in daardie verslag wat aangehaal word deur ons leiers, en deur Shell. Dit is die verslag wat Suid-Afrika se energiebeleid beïnvloed het.

Nie net was die ekonomiese modelle waarop die verslag gebaseer is, onvanpas vir ’n projek soos skaliegas nie, maar daar is staatgemaak op modelle wat bloot enige ekonomiese voordele vermenigvuldig.

In die verslag is geen poging aangewend om die kostes te beraam wat jý, die belastingbetaler, sal moet dra nie: die herstel van die paaie, die behandeling van siek mense, watervoorsiening aan gemeenskappe (soos in Carolina in Mpumalanga, of Beaufort-Wes in die Karoo), of om onderhoud weens werkverlies in die landbou- en die toerisme-sektor te verskaf.

Die waarheid oor skaliegas-boorgate is dat hulle slegs ’n paar jaar aktief is en dat ’n menigte binne die eerste jaar ongeveer 70% van hul gaslewering verloor.

Nadat die gas ontgin is, bly die gevaarlike chemikalieë bo en onder die grond.

Wat van openlikheid, eerlikheid en deursigtigheid?

Shell beweer dit ís hoe hy dit doen. In 2011 en 2012, terwyl Shell aan Suid-Afrika verkondig het hoe voorbeeldig hy is en hoe die maatskappy ’n wêreldleier in standaarde is, het staatsdepartemente en -agentskappe vir omgewingsoortredings in die VSA op dieselfde tydstip grondwaterbesoedeling by hul skaliegasboorgate uitgewys.

Toe hy gekonfronteer is met die oortredings in die VSA, het Jan-Willem Eggink van Shell Suid-Afrika, dieselfde man wat ’n “ekologiese voorbeeld van die Karoo” wil maak, gesê dat die oortredings “administratief van aard” was.

Dit is nie korrek nie. Uit die 37 oortredings van Shell Western Exploration and Production (Swepi) was net vier “administratief”.

’n Oorsig oor die oorblywende oortredings behels vyf gevalle waar Shell toegelaat het dat besoedelende stowwe waterbronne binnedring, tien gevalle waar boorgate verlaat is sonder dat dit verseël is, ’n geval van grondwaterbesoedeling waar vloeistowwe van dieper formasies toegelaat is om grondwater binne te dring, asook drie gevalle van die onvoldoende berging, hantering en storting van die afvalwater van die hidrobrekingsproses.

En dít is die maatskappy wat sweer dat hy ’n wêreldleier is? Die een wat belowe dat hy “die Karoo beter sal agterlaat as wat hy dit gekry het”, die een wat “die Karoo met meer water sal agterlaat as wat daar voor hidrobreking was”? Die maatskappye wat nie bewus is van enige geval van grondwaterbesoedeling weens hidrobreking nie – maar ook die einste maatskappy is wat water in Pennsilvanië besoedel het, waarna ’n gesin hul huis moes agterlaat en trek?

As dít die wêreldleier is, dieselfde een wat die power resultate in Nigerië behaal het, wat kan ons verwag van die Bundu’s, die Falcons, die Sungu-Sungu’s, Cairn Energy, Rhino en die ander wat kan volg?

Skaliegas is dalk wel ’n game changer in Suid-Afrika, maar slegs Shell en ’n paar sakemanne sal in die wenspan wees.

Jonathan Deal is die uitvoerende hoof van die Treasure Karoo Action Group.

 

%d bloggers like this: